Register now and become a part of the movement!
Featured
Search
Nicky blink in SA matriek eksamen
’n NAMIBIËR het in die matriekeksamen van Suid-Afrika uitgeblink toe sy ses onderskeidings behaal het.
Nicky Enslin (foto), oorspronklik van Ondangwa, het haar graad 12 met ses onderskeidings geslaag met ’n besondere prestasie van 92% in wiskunde.
Sy is ’n oudskolier van die Ondangwa Prof. Primêre Skool waarna sy graad 6 by die Laerskool Paarl Gimnasium en haar 8 by die Hoërskool Paarl Gimnasium voortgesit het.
Nicky het agt vakke in haar matriekeksamen geskryf deur nog ’n ekstra vak, Wiskunde III, by te neem.
Haar ma, Nicolene, vertel dat hoewel Nicky nie verwag het om ses onderskeidings te behaal nie, het sy geweet sy sal goed vaar.
“Toe ek haar bel, het sy vir my gesê dat sy baie hard gewerk en gehoop het om dit te bereik.”
Voorts het Nicky die Gimnasium-prys vir beste prestasie in Fisiese Wetenskap, Wiskunde en Lewenswetenskap in Gr.12 ontvang en Ereklere vir akademie en joernalistiek gekry.
Sy was subredakteur vir haar skool se koerant, die Skollie, wat as Suid-Afrika se beste skoolkoerant aangewys is.
Intussen is Nicky gekeur om medies te studeer en begin sy vanjaar haar studies by Stellenbosch se Tygerberg-kampus. Sy is reeds op haar eerstejaarskamp in Stellenbosch.
Wat haar planne ná haar studies inhou, is egter nog onseker. “Sy is baie lief vir Namibië en dit is waar sy grootgeword het, maar of sy wil spesialiseer, of terugkom Namibië toe, of oorsee gaan, weet ons nog nie. Dinge kan so vinnig verander,” het me. Enslin gesê.
“Nicky is opreg dankbaar vir die wonderlike geleenthede wat oor haar pad gekom het en bring al die eer aan haar Hemelse Vader.”
- 285 reads


