Voortrekkers probeer verstaan

in Informative
Author: 
Namlish

Die Alex van Rooyen-Voortrekkerkommando van Swakopmund het die realiteit van 'n plakkerskamp probeer verstaan. Die idee was om self te ondervind hoe hierdie leefwyse baie mense raak. Die doel is dan om beter begrip te toon vir diegene wie se omstandighede soms haglik is en en daarom ‘n helpende hand na hulle te reik.

Sowat 50 Voortrekkers het Vrydagmiddag hulle kaias, hutte, skerms, huisies en afdakke opgeslaan, gemaak, geprakseer op Dries Jacobs se kleinhoewe net buitekant Swakopmund. Die kinders moes tuis afval-materiaal bymekaarmaak en dit na die kamp vervoer.

Aanvanklik is daar maar gesukkel om 'n waterdig kaia te bou, maar oorspronklikheid het op die ou end geseëvier en was baie van die eindprodukte heel skaflik om in te bly.

Allerhande snaakse eetgoed is te koop aangebied kapana, vrugte, worsies, roosterkoeke, aartappelskyfies , pap en sous. Die kinders moes ook die vleis self braai.

Die nag het die reën gesorg dat alle hutte en skerms nie die die toets deurstaan het nie. Sommige kinders moes ander slaapplek gaan soek aangesien hulle en hulle beddegoed papnat gereën het.

Die volgende oggend het party Voortrekkers getuig van 'n 'slegte' nag wat hulle nie wil oorhê nie. Hulle het ook gesê dat hulle nou besef wat mense deurmaak wat elke dag in so 'n 'huisie' moet bly.

Nadat elkeen weer sy 'kaia' afgeslaan het en al die materiaal deur Oom Dries met die vragmotor by die DRC gaan aflaai is, waar gretige hande dit in ontvangs geneem het het die Afrikanerjeug besef watter vooreegte sommige van hulle het en dat hulle die hand moet uitsteek na die minderbevooregtes.

Annatjie du Plessis
click to enlarge
© Annatjie du Plessis