Kunsuitstalling baat Dagbreek-Kerspartytjie

in Informative
Author: 
Ruhan

DAGBREEK Skool in Windhoek hou op Dinsdag, 22 November, by die skoolsaal ’n kunsuitstalling van die leerlinge se kunswerke om geld vir sy koshuis se jaarlikse Kerspartytjie in te samel.
Volgens een van die organiseerders van die kunsuitstalling, me. Michelle van der Merwe, neem die kunsuitstalling die vorm van ’n kaas-en-wyn funksie aan en daar sal ook by die uitstalling ’n Kersboom wees wat versier is met koevertjie met foto’s van die kinders op en elkeen se Kerswens vir ’n geskenkie.
Skenkings ten bate van die kinders se geskenke word tydens die kunsuitstalling in die koevertjies geplaas, waarna met die geld geskenkies gekoop sal word.
Van der Merwe het verduidelik dat die geskenkies oorhandig sal word tydens die jaarlikse Kerspartytjie wat op 30 November by die Black Pearl in Avis voor die Eagles Restaurant plaasvind.
Die kunsuitstalling vind Dinsdag om 18:00 by die skoolsaal in Hebenstreitstraat plaas en die koste beloop N$50 per persoon. Kaartjies is by die deur beskikbaar.
Vir meer inligting kan Michelle by 081 401 2314 geskakel word.

click to enlarge
©