Register now and become a part of the movement!
Featured
Search
Khomas Wetenskapskou om die draai
MEER as N$73 000 is deur borge beskikbaar gestel vir die aanbieding van die 23ste jaarlikse Khomasstreek Wiskunde-, Wetenskap- en Ingenieurskou wat op 30 Junie en 1 Julie in die hoofstad plaasvind.
“Ons is dankbaar vir die ondersteuning wat ons van ons borge ontvang het. Nie net sal dit die verhouding tussen die Ministerie van Onderwys en die betrokke borge en maatskappye verbeter nie, maar ook leerlinge se selfvertroue ’n hupstoot gee met die wete dat hul ontwerpe deur die wêreld se voorste maatskappye soos SAP, De Beers Marine, Kolok Namibia en Kolok SA raakgesien word,” het Scholastie Scholtz, voorsitter van die reëlingskomitee gesê.
“Alle leerlinge in die Khomasstreek word aangemoedig om aan hierdie opwindende geleentheid deel te neem. Al wat ons benodig, is die leerling se passie en belangstelling om nuwe moontlikhede te ontdek,” het hy gesê.
“Ons wil voortgaan om die leerlinge te ondersteun sodat hulle ook op internasionale vlak hul ontwerpe kan ten toon stel. Dit is opwindend om die groei van die skou te beleef en te sien dat ondersteuning hiervoor in die afgelope paar jaar toegeneem het, veral onder borge, beoordelaars en koördineerders,” het mnr. Scholtz gesê.
Die borgskappe wat die fees ontvang het, is as volg: De Beers Marine Namibia (N$20 000), SAP Africa (N$20 000), Kolok Namibië & Kolok Suid-Afrika (N$20 000), Macmillan Publishers (N$4 000), Denu Distributors (N$2 000), Ricoh Namibia (N$2 000), Seelenbinder Consulting Engineers (N$1 500), Officeconomix & Homeconomix (N$1 000), Pennypinchers & Timbercity (N$1 000), Peralin Paints (N$1 000) en Salt IT (N$1 000).
Die skou vind by die Politegnikum se eksamensaal plaas waarna die prysuitdeling by die Sekondêre Skool Jan Möhr volg. Die skou is ook op 1 Julie vanaf 10:00 tot 13:00 vir die publiek toeganklik.
- 397 reads


