Register now and become a part of the movement!
Featured
Search
Eksamenstres en mondhigiëne
Hoewel matrieks en graad 10-leerlinge reeds die penne in die eindeksamen neergelê het, begin die res van die grade in die land se skole nou eers met die eindeksamen. En kou, sal die nerwe kou.
Een van die vele newe-effekte van sogenaamde eksamenstres, wat gepaard gaan met min slaap wanneer leerders laatnagte studeer, is mondsere. Een uit elke vyf mense kry mondsere en stres kan jou kanse verhoog. ‘n Mondhigiënis verduidelik: "Eksamens kan beslis mondsere laat opvlam, want studente onder druk slaap soms nie genoeg of eet nie korrek nie, en hierdie faktore, saam met angstigheid, kan die immuunstelsel onderdruk.”
Mondsere is beserings of letsels aan die slymvliese van die mond wat dan die sensitiewe senuwee-eindpunte bloot stel. As dié senuwees dan in kontak kom met kos, warm- of koue vloeistowwe, of selfs die tong, kan dit baie pynlik wees. Dit kan ontstaan wanneer die wang of binnekant van die lip per ongeluk raakgebyt word. Virusse, allergieë en wisselende hormoonvlakke kan ook ’n rol speel.
Daar is verskeie tuisbehandelings en toonbankmedisyne wat die pyn van mondsere kan verlig, maar dis eerstens belangrik om die oorsaak van sulke sere te vermy en uit te skakel. Probeer om kosse te vermy wat baie suur is of wat baie speserye, sout of asyn bevat.
’n Mondspoelmiddel wat gemaak is van ’n teelepel sout in ’n liter afgekoelde, gekookte water kan hiervoor help. Mondspoelmiddels soos Paroex, wat antibakteriese chloorheksidien, bevat kan ook help. Produkte wat alkohol bevat moet eerder vermy word, want dit sal die mond brand. Heelwat produkte is by apteke beskikbaar en die produkte wat aalwynekstrak bevat word ook dikwels aanbeveel.
Wanneer sulke mondsere egter langer as twee weke voorkom, moet ‘n dokter of apteker gesien word.
Sulke mondsere kan ’n leerder so pla dat dit sy konsentrasie verswak en sy vermoë om te leer kan onderdruk.
Voorkomend is genoeg slaap, min spanning en die regte gebalanseerde maaktye met genoeg vars groente en vrugte.
- 382 reads


