Deel jou vakansie op Tour Namibia

in Affiliates
Author: 
Mariёtta Coetsee (Republikein)

DMH se toerisme-webtuiste www.tournamibia.net het in die eerste ses maande van sy bestaan meer as 14 400 besoeke van webswerwers in meer as honderd lande gelok. Namibiese gebruikers verteenwoordig net oor ʼn derde van die totale aantal besoeke, gevolg deur Suid-Afrika, Duitsland, die Verenigde State van Amerika en die Verenigde Koninkryk. Met die vakansie in volle swang, nooi Tour Namibia alle vakansiegangers om hul Namibiese avonture met die res van die wêreld te deel deur aan die webwerf se forums en blogs en fotogalery deel te neem.

Vertel ons waar jy was, wie van die Groot Vyf jy by watter watergat gesien het en wys ook jou foto’s deur dit op ons galery te laai. Al wat nodig is om deel te neem, is om te registreer – dis verniet. Of stuur jou foto’s en inligting aan tournamibia@tournamibia.net Toergidse word aangemoedig om te registreer en ons gereeld op hoogte te hou van wat op hul reise gebeur en waar die wilde diere wegkruip. Die webblad word bykans daagliks op datum gebring met die jongste toerisme- en bewaringsnuus.

Meer as 300 artikels is in die laaste ses maande op die webwerf geliasseer – van vlugte wat gekanselleer word, die slagting van renosters vir hul horings tot die ring van swart aasvoёls in die Namib-Naukluft Park. Video’s van wilde diere, insluitend die moederlike seekoei wat ʼn wildebees-kalf en ʼn sebravul ʼn vinnig vloeiende rivier help oorsteek het, word ook gereeld op die webwerf gelaai. Die webtuiste bevat ook ʼn magdom inligting oor Namibië – die land, geskiedenis, monumente en bewaringsgebiede.

Aktiwiteite soos die Opuwo na Khowarib Schlucht 4x4-roete in Kaokoland, die moeilikste staproete in Suidelike Afrika, die Naukluft-staproete (120 km in agt dae) en die beste plekke in die land vir voёlbesigtiging word beskryf. Nutsinligting soos watter klere ingepak moet word vir watter seisoen, permitte, geldsake, gesondheids- en veiligheidsmaatreëls (soos om nie waardevolle items in die motor te los nie en om ook nie om alleen op afgesonderde grondpaaie in die woestyn te ry nie), asook noodkontaknommers word verskaf.

Waar om tuis te gaan, is een van die belangrikste aspekte vir enige besoeker wat ʼn reis beplan. Die webwerf bevat ʼn volledige lys van instellings wat huisvesting verskaf – van luukse lodges en hotels tot kampeerplekke – asook inligting van toeroperateurs en ander diensverskaffers in die toerismebedryf. Al die inligting wat jy nodig het om deur Namibië te toer, is op tournamibia. net. Dit is die webblad wat jou vakansie na daardie ekstra plek sal neem.

click to enlarge
©