Register now and become a part of the movement!
Featured
Search
Boogskutters berei vir jaar se grote
DIE vierde nasionale kampioenskap in teikenboogskiet vind van 17 tot 19 Junie by die DTS sportterrein plaas. Minstens 40 deelnemers word by die kompetisie verwag. “Verlede jaar se kampioenskap was die grootste wat tot nou toe gehou was, met meer as 40 deelnemers. Vir die eerste keer het ’n buitelander, ’n jong meisie van Suid-Afrika, in die ope afdeling van die kompetisie deelgeneem.
Vanjaar is daar ’n weer ’n ope klas om meer buitelanders by die kompetisie te betrek. Namibiese teikenboogskutters neem gereeld in die Suid-Afrikaanse nasionale kam¬pioenskap se ope afdeling deel,” het mnr. Frank Bockmühl, visepresident van die Teikenboogskietvereniging gesê. Deelnemers in hul onderskeie klasse gaan 36 pyle oor elk van vier verskillende afstande skiet. “Die maksimum telling wat ’n skutter kan behaal, is 1 440, wat nie ’n maklike teiken is om te bereik nie.
Net ’n handjievol mense in die wêreld het al 1 400 en meer punte in ’n kompetisie behaal. Een van hulle is Nico Benade, die eerste Suid-Afrikaner wat 1 400 punte oortref het, wat dalk ook hier in die ope afdeling gaan kom deelneem,” het mnr. Bockmühl gesê. Mnr. Bockmühl het gesê die meeste wêreldrekordhouers is ouer as 30 jaar oud. “Boogskutters begin meer volwasse in die sport word hoe ouer hulle word. Van die topskutters in die land is in hul vroeë twintigs en daar wag ’n opwindende toekoms vir Namibiese skutters.”
Die nasionale kampioenskap is in 2007 vir die eerste keer gehou en is nog net die jaar daarna oorgeslaan. Op die eerste kompetisiedag word die Namibiese geslote kampioenskap gehou, gevolg deur die ope kampioen¬skap die twee volgende dae. “Hierdie twee dae gaan ’n Olimpiese rondte wees waar deelnemers met 72 pyle almal op een afstand skiet. ’n Ranglys word dan opgestel en daarna sal ’n uitklopkompetisie gehou word,” het mnr. Bockmühl verduidelik.
Die vereniging hou elke maand ’n plaaslike kompetisie, waarna deelnemers se punte op die ranglys aangepas word. Die nasionale kam¬pioenskap se punte tel uiteraard ook. Volgens die ranglys sal skutters wat goed vaar, in aanmerking kom om vir toekomstige internasionale kom¬petisie gekies te word. Namibië het verlede jaar ’n span van drie mans na die Statebondspele gestuur en het in die vyfde plek uit 15 lande geëindig.
Teikenboogskiet word sedert 1970 in die land beoefen en daar was net een teikenboogskietklub van Windhoek wat in Suid-Afrika gekompeteer het. Namibiese skutters soos Rita Schenk en Doris Berger het in daardie dae selfs Springbokkleure verwerf en Suid-Afrikaanse kampioenskappe gewen.
- 312 reads


