ATKV goes Bakgat!

in School
Author: 
Namlish.com

OP Okandja het ’n groep bekkige Afrikaners die ATKV (Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging) se jeugtak Bakgat gestig. Bakgat is die akroniem vir Bekkige Afrikaners Kan Groot Aktiwiteite Takel.

Op 24 Junie 2009 is Okandja besoek deur die ATKV-verteenwoordiger, mnr. Marco van den Bergh, wat by Berg-op Akademie die jeugaktiwiteite van die ATKV bekend gestel het. Sy entoesiasme het die jongklomp so aangespoor dat hulle daar en dan besluit het om ’n ATKV-tak te stig.

Die tong in die kies naam vir die tak is daar uitgedink, naamlik Bakgat. Die tak bestaan uit 15 lede. Mnr. Louis van der Linde is die voog saam met sy bestuurslede, Bennie Maritz (voorsitter), Danielle Myburgh (ondervoorsitter), Louise du Plessis (sekretaresse), Jacky Blaauw en Zandrie Nortjé (tesourier).

Hierdie span entoesiastiese jeuglede probeer soveel as moontlik aktiwiteite reël en betrek nie net die skool nie, maar die hele Okahandja. Om mee te begin, is ’n koekverkoping gehou waar die eerste N$530 ingesamel is. In Augustus het hulle vir hulself hemde met elkeen se naam agterop laat druk danksy ’n borgskap deur Okahandja Plastic Converters.
So het die jongklomp lopende advertensies vir hulle doelwitte geword. Op 2 Oktober is ’n spesiale dag vir die senior burgers van Huis Sonder Sorge op Okahandja gereël.

Die bekkige jong klomp wou aan die ouer geslag hulde bring en hul dankbaarheid betoon vir die voetspore wat hulle getrap het waarin die jeug kan volg. Nog ’n aksie deur die klompie was Loslitdag by die skool.
Die kinders moes N$5 betaal om gewone klere aan te trek skool toe. Hierdie geld het ook na die tehuistoevir bejaardes gegaan en is by ’n spesiale geleentheid aan hulle oorhandig. Die Bekkiges is van plan om dit ’n jaarlikse instelling te maak.
Verder word beplan om jaarliks van Boomplantdag iets besonders te maak. Danielle Myburgh sê namens die jong klomp: “Groot take word nie net deur krag volbring nie, maar ook deur volharding.”

click to enlarge
©